
PRETORIA ─ Wyle prins Mangosuthu Buthelezi, voormalige leier van die Inkatha Vryheidsparty (IVP), is verlede Vrydag deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) vereer deur ‘n gedenkdiens vir hom in die Voortrekkermonument te hou. Die veelrassige FAK bestuur die Monument. Verskeie Afrikanergroepe is woedend dat ‘n volksvreemde (en nogal ‘n Zoeloe-leier) hierdie eer by die Voortrekkermonument ontvang het, veral in die lig daarvan dat die Zoeloevolk tydens die Groot Trek hele Voortrekkergesinne uiters wreed uitgemoor het.
Die diens was deur ds. Cassie Aucamp, voormalige leier en enigste LP van die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB) en later leier van die kortstondige Nasionale Aksie (NA) in die Krugergalery gehou. Aanvanklik sou dit in die Senotaafsaal gehou gewees het. Die hele diens het oor die erkenning aan ‘n “vriend van identiteit in ‘n era waarin ons identiteite onder druk staan” gegaan. Verder het dit glo oor die versterking van die bande tussen Afrikaners en Zoeloes, in die gees van versoening, gegaan.
“Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging verwerp hierdie poging wat aangewend is deur die FAK asook Solidariteit en AfriForum, soos wat ek verneem daarby betrokke was, om ons Voortrekkermonument te misbruik deur so versoening tussen die Zoeloevolk en die Afrikanervolk te wil bring. Ons moet besef waar Buthelezi vandaan kom, het hy ‘n stryd téén ons as blanke volk gevoer. Ons moet onthou dat hy destyds die jongste lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en ook lid van die African National Congress (ANC) was,” het mnr. Carel van der Grijp, voorsitter van die ANB aan Landnuus gesê.
Mnr. Van der Grijp het ook daarop gewys dat Buthelezi en die IVP nooit vir ‘n onafhanklike Zoeloestaat geveg het nie, maar dat hulle al hulle magte gebruik het om “die verkose blanke Christelike regering tot ‘n val te bring.” Al hierdie swart leiers het die kommunistiese ideologie aangehang en daarom kan ons nie een van hulle as vryheidstryders sien nie, aldus mnr. Van der Grijp.
Mnr. Van der Grijp het verder genoem dat die veelrassige AfriForum en die Direksie van die Voortrekkermonument die dood van die Zoeloe-prins wil misbruik om die sogenaamde reënboognasie te maak werk. “Om die dood van Buthelezi te misbruik om daardie versoening te bewerkstellig is in my oë niks anders as die stryd om alle grense tussen volke en rasse uit te wis nie. Ons moet ook besef in Natal waar die plaasmoorde nou hand uit ruk en geweld teen ons blanke boere gepleeg word, is dit uit-en-uit die Zoeloebevolking wat hierdie dade pleeg.”
Mnr. Johannes Agenbach, leier van die Vryburger Beweging, het in ‘n video gesê dat Afrikaners eerstens kwaad is “want dit wat ons s’n is, is nou onheilig gemaak en uitgedeel aan ander.” Hy sê vir hom was die gedenkdiens vir die Zoeloe-prins glad nie ‘n skok nie, want hy weet wie die organisasies is en wat hulle ten doel het en dat hulle ‘n veelrassige Suid-Afrika ten doel het.
Mnr. Agenbach het onder andere na dr. Ernst Roets van AfriForum verwys wat by geleentheid gesê het blanke nasionalisme is boos. Mnr. Agenbach het ook gesê dat “dit nie saak maak hoeveel keer ons versoen nie, maar hierdie mense sal ons nie met ruste laat nie. Daarom is dit dat ons nie vrede met ander volke moet najaag nie.” Kyk gerus mnr. Agenbach se volle video onderaan hierdie nuusberig.

Die leier van die Afrikaner-Volksparty (AVP), mnr. Danie Varkevisser, het op die Party se webwerf die volgende geskryf: “Hierdie skokkende gebeurtenis na dertig jaar van die mislukking en vernietigende effek van integrasie soos voorspel deur behoudende Afrikaners, laat ‘n mens duisel van verbasing oor die kranksinnigheid daarvan.” Volgens mnr. Varkevisser is dit glad nie ‘n pluimpie vir ons volk dat ook ons kultuurorganisasies, net soos die kerke, deur liberale denkers beset en in die “liberale afgrond” in bestuur word nie.
“Die AVP beskou die FAK en Voortrekkermonumentbestuur se optrede as laakbaar en deel van ons vyande se pogings om die Afrikanervolk se ankers te trek. Ons moet in die nuwe toring van Babel, wat besig is om opgerig te word, ingesuig word en as kosmopolitane, sonder identiteit, sonder taal, sonder kultuur, sonder Godsdiens en sonder eie land, deel word van die Nuwe Wêreld Orde, asof dit die aller oplossing is wat vir ons oorgebly het,” het mnr. Varkevisser geskryf.
Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat so ‘n gedenkdiens bínne die Voortrekkermonument gehou word. Nog géén Afrikanerleier is nog ooit eers met die eer gegroet nie. Dr. Danie Langner, hoof van die FAK, het volgens Maroela Media gesê dat die besluit eenparig deur die Direksie van die Voortrekkermonument geneem is, in die lig van die “geskiedkundige agtergrond van Afrikaner- en Zoeloeverweefdheid.”
Op sosiale media het dit onder Afrikaners gegons oor die gedenkdiens. ‘n Bekende in volksgeledere, mnr. Buks “Dom Boer” Barnard, het op sy Facebook-profiel die volgende geskryf: “Opvallend met hoeveel swymelende aanbidding dr. Langner deurgaans van PRINS buthelezi praat, maar president Paul Kruger is telkens net “Paul Kruger”. Dit wys tog seker vir ‘n mens iets…
“En sy redes vir die diens en die verskuiwing daarvan uit die senotaafsaal glo ek ongelukkig glad nie. Ons het met sy ewe liberale voorganger, pienk Gert Opperman, presies dieselfde ervarings gehad toe hy die ANC-walgvlag wat níks met die Voortrekkers of die monument te doen het nie voor die monument gehys het en toe hy die aartsterroris, Nelson Mandela, genooi het om die beeld van Danie Theron te onthul, maar die geleentheid onder ons druk na Fort Schanskop verskuif het, net soos Langner sy diens verskuif het.”
* Weens die belangrike aard van die storie is hierdie nuusberig heelwat langer as die gewone lengte van ‘n berig. U kan hier mnr. Agenbach se video kyk: