Verskeie verdagtes vir vuurwapen verwante misdade gearresteer

Misdadiger geboei

WES-KAAP  ─ Pogings om die verspreiding van onwettige vuurwapens in die Wes-Kaap te bekamp, het gelei tot die arrestasie van verskeie verdagtes op aanklagte wat met die besit van ongelisensieerde vuurwapens, asook die onwettige besit van ammunisie, verband hou.

Cloetesville SAPD-lede het Vrydag omstreeks 12:45 inligting oor ‘n onwettige vuurwapen by ‘n perseel in Sylviastraat, Cloetesville ontvang. By hul aankoms het die polisiebeamptes die eiendom en persone op die perseel, deursoek en ‘n .38 Special Taurus-rewolwer met vyf rondtes ammunisie is gevind.  Twee verdagtes van 24 en 26 jaar oud onderskeidelik is op aanklag van die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem.  Hulle moet vandag in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.  Verdere ondersoek het aangedui dat die eienaar van die vuurwapen oorlede is.

In ‘n onverwante aangeleentheid, het Steenberg se SAPD se misdaadvoorkomingseenheid op Vrydag omstreeks 18:40 ‘n stop- en deursoekingsaksie by ‘n lokasie in St Barbarastraat, Lavender Hill, uitgevoer toe hulle op ‘n lid van ‘n plaaslike bendegroepering afgekom het.  Hulle het hom gestop en deursoek en en ‘n 7.65mm vuurwapen met sewe rondtes ammunisie by hom gevind.  Die 16-jarige verdagte is in hegtenis geneem vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en vandag in die Wynberg-landdroshof verskyn op die genoemde aanklagte.

Op dieselfde dag, ook in Lavender Hill, is ‘n lid van plaaslike bende in St Bonaface opgemerk en is hy ook voorgekeer en deursoek.  Daar is by hom ‘n leë vuurwapen met vyf leë rondtes gevind en die 33-jarige verdagte is gearresteer.  Hy moet ook vandag in die Wynberg-landdroshof verskyn.

Lede van die Maitland Blitspatrollie het Vrydagmiddag ‘n voertuig, wat in Delft gekaap is, in die Bellville-omgewing opgemerk. Die voertuig is afgetrek en twee verdagtes van tussen 25 en 35 jaar oud is in hegtenis geneem.  Die lede het die voertuig deursoek en ‘n nagemaakte vuurwapen in die voertuig gevind. Die verdagtes is by Bellville SAPD op aanklag van die besit van nagemaakte vuurwapens en die besit van gekaapte voertuig aangehou en moet vandag in die Bellville-landdroshof verskyn.