Pretoria FM ‘lieg’ oor 30 jaar

Pretoria FM, AfriForum-mondstuk, verkleurmannetjie
Pretoria FM het eers 'n verkleurmannetjie in hulle embleem gebruik, nadat hulle weggedoen het met die ou Radio Pretoria se embleem waarin 'n Vierkleur was.

PRETORIA ─ Vanaf 16 tot 19 September 2023 het Pretoria FM sy dertigste verjaardag gevier, beweer die radiostasie. Saterdag het die stasie van vroeg af by die Voortrekkermonument ‘n gesinskuierdag gehad en Sondag was daar ‘n dankdiens in die senotaafsaal, wat deur dr. Danie Langner gelei was.  In volksgeledere is daar egter baié Boere/Afrikaners wat voel dat Pretoria FM ‘n leuen verkondig deur te beweer dat hulle nou al 30 jaar lank bestaan. 

“Op 18 September 1993 het ons begin uitsaai en toe die owerhede ons wou stilmaak, was ons antwoord: ‘Nou gaan ons net aan!.’  Sedertdien is Pretoria FM jou huisgenoot, jou bondgenoot en jou klankkoerant.  Nou reeds 30 jaar, ten spyte van baie teenstand en hofstryde, en as ons Hemelse Vader dit wil, sal ons nog baie jare aanhou,” beweer die radiostasie op hulle amptelike webwerf.

Die radiostasie was eers ‘n regse radiostasie bekend as Radio Pretoria, maar in 2015 het die veelrassige AfriForum beheer van die stasie oorgeneem.  Hulle het die Vierkleur uit Radio Pretoria se logo gehaal en aanvanklik het die nuwe Pretoria FM ‘n verkleurmannetjie as embleem gehad.

Kol. Franz Jooste, hoof uitvoerende beampte van die Kommandokorps, was baie betrokke by die ou Radio Pretoria en het die volgende oor Pretoria FM aan Landnuus gesê:  “Daar’s redelik dispuut of die radiostasie Pretoria FM vanjaar 30 jaar oud sou wees.  Dit hang egter af of die direkteure en werknemers werklik die eerste jare van die radiostasie erken toe dit nog Radio Pretoria was.  Daar is bewerings dat die huidige Pretoria FM se bestuur en werknemers nié die eerste jare van Radio Pretoria erken nie.

“Die ouderdom van die stasie is egter nie so belangrik soos die transformasie wat die stasie ondergaan het, vandat sy bestuur deur AfriForum oorgeneem is nie.  Ons moet onthou dat AfriForum nié ‘n vryheidsgesinde organisasie is nie, inteenstelling met die ou Radio Pretoria wat ‘n verset- en vryheidsgesinde radiostasie was.  AfriForum is ‘n burgerregte organisasie wat min omgee vir die vryheid van ons volk en eerder klem lê daarop dat mense hof toe geneem moet word.  Ek hoor hulle wil ook die duiwel hof toe vat.. “

Verder het kol. Jooste aan Landnuus vertel dat vroeër jare toe AfriForum oor iets ‘n optog wou hou, wou die Kommandokorps hulle ondersteun omdat hulle onder die wanindruk was dat AfriForum ‘n vryheidsorganisasie is.  Toe die Boere egter daar met hulle Vierkleur-vlae asook ou landsvlae opdaag, toe vra AfriForum hulle om die vlae te bêre want hulle laat nie vlae by hulle optogte toe nie.  “So dit wys jou uit-en-uit hulle is nie ‘n vryheidsorganisasie nie want vlae is tog een van die eerste simbole wat jy gebruik as jy vryheid ondersteun,” sê kol. Jooste.

Franz Jooste, kommandokorps
Kol. Franz Jooste van die Kommandokorps.

Die voormalige redakteur van die destydse volkseie tydskrif Ons Eie, mnr. Buks “Dom Boer” Barnard, het Sondag die volgende op sy Facebook-blad geskryf:  “Die WAARHEID is:  pretoria fm is NIE dertig jaar oud nie – dit is RADIO PRETORIA wat dertig jaar oud sou gewees het as ‘n verraaierdireksie nie die radio vir ‘n liberale, rasgemengde vakbond present gegee het om te vernietig en te vervang met ‘n mismaaksel wat die anc knegtig dien met onder meer die napraat en verkondiging van die anc se valse plekname, die swymeling oor die anc se afgodslied, bevordering van rasgemengde Sondaggeldsport  en die minagting en besoedeling van Afrikaans nie – dit nogal onder die liegleuse, ‘Lééf in Afrikaans” (Mnr. Barnard skryf sekere woorde doelbewus met kleinletters in plaas van hoofletters – Red).

Ten slotte het mnr. Barnard die volgende geskryf:  “Hoe laag moet pretoria fm wees om op Radio Pretoria se verjaarsdatum te ry nadat hulle Radio Pretoria VERMOOR het?  Kan ‘n mens laer en valser kry?  Hoe skaamteloos kan ‘n mens LIEG en dan nog ‘n dankdiens in die senotaafsaal van die Voortrekkermonument by die LEUEN insleep?”

Die nuwe Pretoria FM het klaarblyklik ‘n amptelike besluit geneem om “wit nasionalistiese” en ander regse volksorganisasies te probeer doodswyg.  ‘n Dagbestuurslid van die Herstigte Nasionale Party (HNP), mnr. Johan Wiesner, het Pretoria FM gekonfronteer oor dat hulle blanke volksorganisasies se mediaverklarings ignoreer.  Op 29 Januarie 2021 om 17:45 het Pretoria FM hom geantwoord dat die volksorganisasies glo geïgnoreer word omdat hulle “nie in die parlement verteenwoordig is nie.”