Nuwe rasreëls oor landbou-uitvoere wys ‘ANC se beheptheid met ras’

Blanke-boer

Nuwe regulasies oor swartbemagtigingsvereistes vir die landboubedryf wys hoe rasbehep die ANC-regering is.  Die toepassing daarvan gaan nie net uitvoer van produkte knou nie, maar totale voedselsekerheid in Suid-Afrika knou aangesien dit jong boere gaan ontmoedig om die landbousektor te betree.  Dit is die mening van dr. Pieter Groenewald, leier van die veelrassige Vryheidsfront Plus, in reaksie op ‘n berig wat gister in die Sondagblad Rapport verskyn het.

Nuwe reëls wat stilweg in die Staatskoerant gepubliseer is, sal boerderye wat “te wit” is nie meer toegelaat word om na Brittanje en die Europese Unie (EU) uit te voer nie.  Boerdeye sal ingevolge die regulasies aan streng bemagtigingsvereistes moet voldoen om uitvoerpermitte te bekom.

“Landbou-ondernemings met ’n jaarlikse omset van minder as R10 miljoen word hiervan vrygestel, maar dit is betekenisloos aangesien feitlik alle groot uitvoerders se omset veel meer as R10 miljoen per jaar is.  Die VF Plus sal skakel met alle moontlike organisasies, ook internasionaal, om beswaar teen die vereistes aan te teken aangesien dit indruis teen die grondwetlike beginsel van ’n vrye mark,” sê dr. Groenewald.

Die internasionale wêreld stel volgens Groenewald nie belang in raskwotas nie, maar in vrye handel en die verkryging van landbouprodukte.  Die VF Plus sal die saak ook glo met die betrokke minister opneem sodat daar weggedoen kan word met die diskriminerende regulasies.  Die politieke party sal ook regsaksies oorweeg indien dit ’n oplossing blyk te wees.

“Die ANC mislei homself deur te dink dat hy meer stemme kan kry in aanstaande jaar se verkiesing deur rassisme in sy verkiesingsveldtog te beklemtoon,” sê Groenewald.

Vrydag het die Mensregtekommissie (MRK) ’n verslag uitgebring waarin gemeld word dat 120 kinders in die Oos-Kaap weens honger gesterf het.  Dit belig die belangrikheid van voedselsekerheid en maak dit volgens die VF Plus duidelik dat die ANC nie omgee vir die mense van Suid-Afrika en die belangrike rol van landbou nie.

“Landbou voed die nasie en Suid-Afrika is reeds nie ’n baie landbou-vriendelike land nie.  Die regering behoort daarom eerder dié sektor op elke moontlike wyse te ondersteun en te vertroetel as om hom te muilband,” verklaar dr. Groenewald.

Ook die linkse Demokratiese Alliansie het gereageer op die ANC-regime se nuutste poging om blanke boere te onderdruk.  “Die DA het reeds ‘n klag by die EU-handelskommissaris, Valdis Dombrovskis, asook die Britse minister van buitelandse sake vir die Departement van Sake en Handel, Kemi Badenoch, ingedien oor hierdie werkdodende raskwotas.  Ons sal ook regsadvies inwin,” het Noko Masipa, DA-LP, in ‘n mediaverklaring bekend gemaak.


* Help om u volk se nuusblad te laat groei deur ‘n donasie of om te adverteer in LANDNUUS.  U kan ook ons nuus help versprei deur dit op u sosiale media blaaie te deel.