NG Kerk se goedkeuring van gesamentlike aanbidding met Moslems onder skoot

Moslems vs Christene

BIRCHWOOD ─ ‘n Taakspan van die NG Kerk vra dat lidmate saam met wat voorheen as ongelowiges beskou was, God moet aanbid.  Dit is van 15 tot 20 Oktober die NG Kerk se 18de Algemene Sinode en hierdie versoek staan in die agenda onder die opskrif van gesamentlike aanbidding.  Baie Christene is daaroor warm om die kiewe en erg beswaard.  In die agenda word daar ook spesifiek verwys na Moslems en Jode.

“Deur met mense van ander godsdienste saam te aanbid of uit te reik na die samelewing, gee ons nie ‘die korrekte manier van glo’ op nie. Niemand van ons kan aanspraak maak op ‘n korrekte manier van glo nie,”  Hierdie, vir baie mense inderdaad onstellende woorde, staan geskryf op bl. 76 van die agenda (bl. 77 op die PDF-weergawe), wat in totaal 405 bladsye beslaan.

“Dit sou dus aanbeveel kon word dat Christene – veral dan ook as gemeentes op plaaslike vlak – nie sal huiwer om gesamentlike geleenthede te reël waarin kwellende kwessies van ons samelewing en die wêreld aan die orde gestel kan word nie. Dit sou op ‘neutrale’ plekke kon plaasvind, maar dit sou ook ‘n besondere gebaar van gasvryheid teenoor mense van onder godsdienste kon wees om sulke byeenkomste in ons kerkgeboue te hou.

“By sulke geleenthede is wedersydse respek vir mekaar se tradisies en rituele van uiterste belang. Christene kan en moet by sulke geleenthede nie daarop aandring dat mense van ander godsdienste die Christelike tradisies moet volg nie,” staan geskryf in die agenda.

Leiers van die Afrikaner Nasionalistiese Beweging (ANB), ‘n organisasie wat sterk staan op gereformeerde Christelike beginsels en wat net die 1933/53-vertaling van die Bybel in Afrikaans as Heilige Skrif erken, het skerp gereageer op die NG Kerk se voorstel oor gesamentlike aanbidding met Moslems en Jode.

“Dit is baie belaglik,” sê mnr. Carel van der Grijp, voorsitter van die ANB.  “Dit laat my dink aan die tyd van koning Agab en toe Elia vir die volk gesê het hulle hink op twee gedagtes.”

Die volk moes kies wie hulle wou dien, verklaar mnr. Van der Grijp.   Hulle kon nie die God van die Bybel Jahweh en Baäl dien nie.  Daar was nie iets soos gesamentlike aanbidding nie.

“Daar is nie iets soos lou nie, jy’s koud of warm,” sê mnr. Van der Grijp.

Carel van der Grijp
Mnr. Carel van der Grijp, voorsitter van die ANB.

Volgens die ondervoorsitter van die ANB, ds. Marthinus Erasmus, is die NG Kerk totaal humanisties.  “Daar is geen sprake meer dat die Here se Woord die rigsnoer en die rigting moet wys nie.  Mens kan dit nie eers meer godsdiens noem nie, dis hoogstens mensediens.  Alles waaroor gepraat en besin word, draai om die mens en nie God nie.”

Die gedagte in die NG Kerk om saam met mense van ander godsdienste te aanbid, sê ds. Erasmus, laat hom dink aan die valse profete van die Ou Testament, wat na die volk toe gekom met ‘n valse leer en valse boodskap wat nie van die Here afgekom het nie.

“Die NG Kerk is vandag soos ‘n valse profeet, wat ons volk mislei en verlei agter humanisme en allerlei gruwels aan,” sê ds. Erasmus en verder wys hy daarop dat die NG Kerk nou juis wil doen wat die Bybel uitdruklik verbied het.  Die eerste gebod is immers dat gelowiges geen ander gode voor God se aangesig mag hê nie.

“Dan roep hulle mense op om saam met Moslems en ander gelowe te aanbid.  Hulle trek ‘n streep deur die Here se Woord, ‘n streep deur die Wet, ‘n streep deur ons belydenis.  Jy kan jouself dan nie meer ‘n Christen, ‘n gelowige noem as jy so praat en so glo nie.”

Die uur het vir die NG Kerk nie net laat geword nie, sê ds. Erasmus, dit het verby gegaan – die son het gesak.  Die Afrikanervolk moet teen die “kerk” gewaarsku word en NG-lidmate moet hulleself bekeer, aldus ds. Erasmus.