
Die derde kwartaal van 2023 was ’n uitermatige bloedige drie maande ten opsigte van plaasaanvalle. ’n Toename van nagenoeg 21% is vir dié kwartaal aangeteken, vergeleke met die tweede kwartaal van 2023. AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid het, vir die tydperk vanaf Julie tot September 2023 88 plaasaanvalle, waaronder 13 plaasmoorde, aangeteken. In die tweede kwartaal (April tot Junie) van 2023 is 73 plaasaanvalle, waaronder 23 moorde, aangeteken.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum-woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, is die aantal plaasaanvalle wat in die derde kwartaal aangeteken is, die meeste nog dié jaar. Indien hierdie tendens in die vierde kwartaal voortgesit word, kan verwag word dat die aantal aanvalle in die vierde kwartaal sal bly styg.
Die data toon voorts dat ’n gemiddeld van minstens 2,33 aanvallers by elke aanval betrokke was in dié tydperk, terwyl daar minstens 127 slagoffers was. Bejaardes is ook duidelik die grootste teiken, met die oorgrote meerderheid van slagoffers wat ouer is as 60 jaar.
‘In die derde kwartaal van 2023 is ’n gemiddeld van nagenoeg 6,7 plaasaanvalle per week aangemeld – dit kom neer op sowat een plaasaanval per dag.’
Broodryk hou vol dat indien plaasaanvalle ’n aanduiding is van misdaadvlakke in die algemeen, wag daar verdere slegte nuus op Suid-Afrika wanneer die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Vrydag die amptelike misdaadsyfers vir die derde kwartaal van 2023 bekendstel. Die uitbreiding van gemeenskapsveiligheidstrukture is daarom, volgens Broodryk, nou noodsaaklik. Voorts is goedopgeleide lede in dié strukture wat die nodige veiligheidsmaatreëls binne die raamwerk van die wet sal toepas, ’n vereiste.
“Ons het die afgelope tyd reeds gesien watter bydrae goed georganiseerde gemeenskapsveiligheidstrukture kan maak in die bekamping van misdaad. Die veelrassige AfriForum se Potgietersrus-buurtwag het byvoorbeeld in September vanjaar, in samewerking met ander veiligheidsorganisasies, gehelp om vier verdagtes aan te keer wat na bewering betrokke was by ’n plaasaanval in die Mokopane-omgewing,” verduidelik Broodryk.