Museum bied ‘Bloedrivier tot Bosoorlog-toneel’ aan

SAW-soldate
Soldate van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag wat tydens die bosoorlog diens aan die grens gedoen het.

PRETORIA ─ Pro Patria Museum, in vennootskap met die veelrassige AfriForum se radiostasie Pretoria FM en die Solidariteit-beweging se mondstuk Maroela Media, gaan vanaf 8 tot 15 Desember ‘n toneelstuk oor die gebeure vanaf Bloedrivier tot die bosoorlog aanbied.  Dit gaan by die feestent geskied om 15:00 teen die koste van R150 per persoon.

“Suid-Afrika is net so ’n land van ’n gesamentlike geskiedenis as wat ons ’n land met ’n gedeelde geskiedenis is. Suid-Afrikaners, gegewe hulle multikulturele agtergrond, het almal bygedra en gehelp om die geskiedenis van die land te skryf en te beïnvloed, waarin ons vandag werk, woon en speel,” skryf die museum in ‘n advertensie vir die toneelstuk.

Hierdie historiese drama beeld die voetspoor oor 150 jaar uit wat Suid-Afrika se geskiedenis vergestalt. Beginnende by Bloedrivier, die Anglo-Boereoorlog met sy konsentrasiekampe waar duisende vroue en kinders gesterf het, tot die Suidwes-Afrikaanse Bosoorlog aan die einde van die vorige eeu.  Die museum het spesifiek ook daarna verwys dat daar glo nie net blanke vroue en kinders in die konsentrasiekampe gesterf het nie, maar ook verwys na swart vroue en kinders wat na bewering in die kampe gesterf het.

Hierdie opvoering vind onder regie van Nymph Kellerman, wat self daarin optree, plaas.  Ander akteurs sluit in Anton van Vollenhoven, Martiens Swart, Ananda Naude, Siyabonga Gazu en Carika-Jane Swanepoel om slegs ’n paar te noem.


* Help om u volk se nuusblad te laat groei deur ‘n donasie of om te adverteer in LANDNUUS.  U kan ook ons nuus help versprei deur dit op u sosiale media blaaie te deel.