LANDNUUS is terug!

Landnuus, volkskoerant, grafsteen
Die Afrikanervolk se enigste wáre onafhanklike nuusblad word nou weer gepubliseer.

REDAKSIONEEL |  Die stem van die waarheid en die Afrikanervolk se enigste wáre onafhanklike nuusblad, is nou weer op die internet beskikbaar.  Weens verskeie redes was die publikasie van Landnuus verlede jaar gestaak, onder andere weens ‘n gebrek aan fondse.  Nou is die volk se koerant weer terug, danksy ‘n sakeman wat glo in dit waarvoor Landnuus gestaan het.

‘n Privaat maatskappy, Landnuus Media (Edms) Bpk is reeds geregistreer en gaan van nou af Landnuus uitgee.  Voorheen was ek as Redakteur ook die uitgewer en het die koerant op eie koste uitgegee.  Ek het nou 10% aandeel in Landnuus Media, maar is nie meer verantwoordelik vir die ontwikkeling van die webwerf en finansiering van die koerant nie.  Daar gaan ook nou die geleentheid aan adverteerders gegee word om in Landnuus teen billike tariewe te adverteer en ons hoop om uit die inkomste daaruit die koerant sterk uit te bou.

Toe Landnuus verlede jaar gestaak was, was baié volksgenote ongelukkig daaroor en het gevra dat die koerant moet aangaan, want “dit doen goeie werk.”  Ons glo dat hierdie volksgenote baie bly sal wees dat die koerant nou inderdaad voortgaan.  Selfs die redakteur van die e-tydskrif Die Afrikaner, mnr. Henk van de Graaf, het destyds in ‘n lang WhatsApp-boodskap gevra dat Landnuus moet voortgaan want “dit doen belangrike werk.”  So het ook ander bekendes in volksgeledere verlede jaar gevra dat Landnuus moet voortgaan.

Landnuus se visie is steeds om die gunsteling bron van betroubare nuus vir vandag se Afrikaners, oud en jonk, te wees.  Ons doelwit is ook steeds dieselfde:  om as koerant elke dag objektiewe en betroubare nuus te publiseer en om veral te fokus op sake wat vir Afrikaners en ander blankes van belang is.

Nuusberigte word daagliks, soos voorheen, Maandae tot Vrydae op ons koerant se amptelike webwerf gepubliseer. Slegs naweke word daar nie nuusberigte gepubliseer nie, maar die naweek se nuus word egter Maandae gepubliseer.

Die koerant gaan soos voorheen objektiewe nuusberigte publiseer, maar gaan nie meer soos voorheen artikels publiseer nie.   Daar is ‘n baie goeie rede daarvoor.  Die hoofdoel van die koerant was nog altyd gewees om ‘n nuusblad te wees, ‘n plek waar lesers betroubare objektiewe nuus kan lees.  Die probleem met artikels is dat in ‘n artikel word daar gewoonlik sterk standpunt oor sake ingeneem, wat baie mense kwaad maak wanneer hulle nie daarmee saamstem nie.  Dan lees hulle nie eers meer die koerant se nuusberigte nie, want die meeste mense verstaan nie dat daar ‘n verskil tussen artikels en nuusberigte is nie.  Nou gaan ons net verslag doen oor die nuus van die dag en lesers kan sélf besluit wie en wat hulle wil glo.  Ons gaan net die feite gee.

Die standpunte in artikels kan ook nuwe lesers afskrik, wat andersins die koerant as nuusblad sou begin lees het.  Nou kan volksorganisasies nuwe mense bereik deurdat mense wat andersins nie Landnuus sou lees nie, nou die koerant sal lees.  Dus sal meer mense nou kan kennis neem van volksorganisasies se standpunte in die nuusberigte wat gepubliseer word.

Uit die aard van die saak gaan ons as nuusblad natuurlik oor die groot instansies en die Suid-Afrikaanse regering se doen en late verslag doen, sake wat elke landsburger raak.  Landnuus se hoofdoel is egter steeds om nuusdekking aan blanke volksorganisasies te gee, wat deur die hoofstroom-media geïgnoreer word.  Selfs Pretoria FM, sedert hulle deur die veelrassige AfriForum oorgeneem is, ignoreer blanke volksorganisasies en dien eintlik net as die mondstuk van die Solidariteit-beweging.  Ook Maroela Media is ‘n mondstuk van die Solidariteit-beweging en dit is net by wyse van uitsondering dat ‘n volksorganisasie daar publisiteit sal kry.  Daarom dat dit uiters noodsaaklik is dat Landnuus as onafhanklike nuusblad weer uitgegee moet word.

Ons hoop dat u as leser ons koerant sal geniet en daarby baat sal vind.  Vertel asseblief vir u vriende en familie van die volk se koerant wat terug is, deel ons plasings op u sosiale media, sodat ons vinnig kan groei.  Soos Landnuus groei, sal ook die volksorganisasies wat nuudekking in die koerant kry groei, omdat ons volk weer van hulle standpunte bewus sal word.  So as ons as volk weer vry wil wees, is dit baié belangrik dat Landnuus vinnig groei.  Lekker lees!

Jan-Tinus Smuts
HOOFREDAKTEUR