‘Kamp vir wenners’ ‘n wenner by jongmense

Kommandokorps opleiding
Die Kommandokorps se kadette besig met opleiding.

RANDFONTEIN  ─  Die afgelope naweek het die Kommandokorps se Kadette en Lanterns ‘n opleidingskamp bygewoon wat deur die Randfontein Kommando aangebied is. Die Kadette is seuns en dogters vanaf 16 jaar tot 20 jaar. Die Lanterns is kinders van 10 tot 16 jaar.

Die kadette doen militêre styl opleiding in drie fases.  Fase 1 is basiese militêre styl opleiding in lesse soos: basiese drilwerk, patriotisme, die vyand en die bedreiging, orders en opdragte, roetemars, struktuur, uniform en regalia, wagstaan, liggaamsoefeninge, inspeksies, korrektiewe opleiding, makkerhulp, selfverdediging, kommunikasie en sein en spanbou.

Fase 2 is Veldkuns. Dan doen hul lesse soos: patrollies en handseine, tydelike basisse, navigasie, vuur en beweging, bekruiping en vermomming en hinderlae.

Fase 3 is vuurwapenopleiding, teikenskiet, boslaanskiet, teikenaanduiding, observasieposte, weerbaarheid en onmiddelike handelingsdrils (OHD’s).

Die Lanterns doen lesse soos:  patriotisme, probleemoplossing, padvinding, verkenning, lanternbekruip, kamoeflering, brandbestryding, noodhulp, spanbou, vlotbou, kaskarbou, geloof en veldkuns.

Kaptein de Bruyn, bevelvoerder van Randfontein kommando, sê dit was ‘n uiters suksesvolle kamp. Majoor Alexander, bevelvoerder van Rustenburg kommando en heelwat van sy adjudante het ook die kamp bygewoon asook Kolonel Franz Jooste, uitvoerende hoof van die Kommandokorps.

(Nuusberig en foto’s is voorsien deur die Kommandokorps en vir publikasie geredigeer deur Jan-Tinus Smuts. Titel deur Jan-Tinus Smuts)