
TZANEEN ─ Verlede Saterdag het die Afrikaner Nasionalistiese Beweging (ANB) Heldedag, ook bekend as Krugerdag, met ‘n feesdag gevier. Daar was feeste in Tzaneen en Pretoria. Volgens die voorsitter van die ANB, mnr. Carel van der Grijp, was dit opvallend dat die oorgrote meerderheid mense wat die fees op Tzaneen bygewoon het nie eers ANB-lede was nie, wat daarop dui dat die Beweging se fees alhoemeer belangstelling onder Afrikaners verkry.
“Dit was ‘n baie groot dag,” het mnr. Van der Grijp aan Landnuus gesê. “Baié jongmense en ek moet sê 70% van die mense wat daar was, is nie lede van die ANB nie. Dit is jongmense wat kom deelneem het, maar ons is ook bly oor die ouer mense wat dit so saam geniet het.”

Mnr. Van der Grijp se seun, Willem, het die feesrede gelewer. Hy het daarop gewys dat Afrikaners nie net hulle voorouers se heldedade moet onthou nie, maar dat hulle inderdaad sélf helde moet wees. Hy het agtergrond oor die Heldedag se ontstaan gegee.
“Heldedag word jaarliks op 10 Oktober gevier sedert sy ontstaan in 1882 en was aanvanklik bekend as Krugerdag, omdat dit die lewe van pres. Paul Kruger gevier het. Kruger is op 10 Oktober 1825 gebore en het soveel respek van die Afrikanervolk ontvang, dat sy verjaarsdag sedertdien deur Afrikaners gevier word. In 1883 is die dag die eerste keer as ‘n openbare vakansiedag ingestel.” Die Britse regering het egter na die Tweede Vryheidsoorlog nie dit as ‘n openbare vakansiedag erken nie.
Verder het die jong mnr. Willem van der Grijp gesê: “In 1952 het die Nasionale Party onder leiding van dr. DF Malan die dag verander vanaf Krugerdag na Heldedag en weer herstel as openbare vakansiedag vir die Afrikanervolk, wat ons sedertden vier om ons Afrikanerhelde te gedenk.”

Volgens Willem is ‘n held die wyse waarop hy in ‘n oomblik van krisis sy eie belang opsy sit, die uitdaging aanvaar en positief op die krisis reageer. Die aard van die krisis en uitdaging sal van situasie tot situasie verskil. Wat dieselfde bly, is die eis dat dit wat op die juiste oomblik gedoen moet word, gedoen word.
Willem het aangehaal uit ‘n storie wat in Die Burger van Oktober 1977 verskyn het. Hy het ook na Kruger se jong dae verwys en hoe dit hom ‘n held gemaak het, toe hy in verskeie skermutselings tydens die Groot Trek betrokke was. Verder het hy na ander gebeurtenisse in Kruger se lewe verwys en dat daar na hom by geleentheid as die “dapperste van die dapperes” verwys was.
Willem het ook daarop gewys dat as dit nie vir die Afrikanervolk se heldedom was nie, dan sou die feesgangers nie Saterdag daar by die fees kon gesit het nie. Heldedag gaan nie oor die persoon van die held nie, maar dit waarvoor hulle gestaan het. Hy daarop gewys dat die Afrikanervolk se stryd een is van tussen lig en die duisternis, tussen Jesus Christus en die duiwel.
“Afrikaners, daardie einste helde se bloed vloei deur ons are! Laat ons ‘n Kruger wees, ‘n Jopie Fourie wees, ‘n dr. Verwoerd wees. Laat ons die stryd van ons vaders en ons helde voortsit, dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly. Net die feit dat ons vandag hier is, is ‘n lewende getuienes van die stryd van ons vaders en dat dit steeds lewe, dat ons volk lewe,” het Willem onder andere verder in sy toespraak gesê. Hy het ook na wyle mnr. Jaap Marais as een van die helde van ons volk verwys. Na die feesrede is die eerste en die vierde strofes van Die Stem gesing.

Die verrigtinge het voor die toespraak afgeskop met die verwelkoming en opening met Skriflesing en gebed deur die penningmeester van die ANB, mnr. Dirk Joubert Snr. Deur die loop van die dag het Boeremusiek die atmosfeer geskep en oud en jonk het die Boeresport terdeë geniet, wat deur die ANB-Jeug aangebied was.
‘n Paar jong manne het “plaas gekoop met die sakresies en die drie been resies, terwyl die ouer manne allerhande slim plannetjies gemaak het om die wenpaal vinniger te bereik. Verbasend, is sommige van hierdie oompies en tannies nog fiks! Spanwerk maak ‘n droom werk – met die toutrek het die jeug die ouer mense uitgedaag, jonk teen oud. Die jonger dames het wel gevaar en die prys gevat teen die ouer dames, terwyl die ou manne stof in die oë van die jong manne geskop het, na ‘n uitdunne,” skryf mnr. Dirk Joubert, Jnr van die ANB-Jeug op die ANB se amptelike Facebook-blad. Hy is ook ‘n dagbestuurslid van die ANB.
Daar was ook op lekker Boeremusiek gedans, skyf geskiet, arm gedruk, gebraai en nog vele meer.
* Help om u volk se nuusblad te laat groei deur ‘n donasie of om te adverteer in LANDNUUS. U kan ook ons nuus help versprei deur dit op u sosiale media blaaie te deel. Sodoende word u deel van die stryd!