
NELSPRUIT ─ Die Polisie in Calcutta is op soek na verdagtes wat gisteroggend, omstreeks 08:30vm ‘n 45-jarige vragmotorbestuurder op die R40-pad in Marite buite Hazyview doodgeskiet het. Tydens hierdie voorval het sommige lede van die plaaslike swart gemeenskap na bewering die paar suiwelprodukte wat agter in die vragmotor was gebuit, dít ten spyte daarvan dat die lewelose liggaam van die slagoffer steeds in die kajuit agter die stuurwiel gelê het.
“Na bewering het die bestuurder en twee bemanningsledes met hulle vragmotor langs die R40-pad op pad na Bosbokrand gery om goedere af te lewer. Terwyl hulle langs ‘n vulstasie deur Marite gery het, word beweer dat ongeveer vier of vyf gewapende verdagtes met vuurwapens langs die pad verskyn het. Daar word ook beweer dat die verdagtes probeer het om die vragmotor te stop deur in die pad te gaan staan. Die bestuurder het toe glo ‘n U-draai gemaak en teen ‘n ander voertuig gebots. Daarna het die verdagtes skote na die vragmotor begin afvuur,” het kol. Selvy Mohlala in ‘n mediaverklaring bekendgemaak.
“In die koeëlreën is die vragmotorbestuurder getref waarna hy beheer van die vragmotor verloor het. Nadat die vragmotor in ‘n boom vasgery het, het dit tot stilstand gekom. Twee van die bemanningslede het met ligte beserings daarvan afgekom. Dit was juis toe die slagoffers mediese hulp benodig het, dat sommige lede van die publiek hulself met items uit die vragmotor gehelp het, in plaas daarvan om diegene wat in nood was, by te staan.”

Die polisie sowel as paramedici is na die toneel ontbied en reeds met hulle aankoms is die bestuurder dood verklaar. Hy is sedertdien geïdentifiseer as mnr. Petros Jay Magagula van Matsulu.
’n Saak van moord en roof is geopen en ‘n span ondersoekers is reeds saamgestel, wat staan onder leiding van die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela, om hierdie voorval te ondersoek.
Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie, maar die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die oortreders vas te trek, insluitend diegene wat sekere items uit die vragmotor gesteel het, om die Crime Stop-nommer by 08600 10111 te skakel of inligting via MySAPS-toepassing te stuur. Alle inligting wat ontvang word, sal as vertroulik hanteer word en die persone wat inbel kan kies om anoniem te bly.
Intussen het die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela, die voorval ten sterkste veroordeel: “Ons is regtig teleurgesteld oor die skokkende optrede wat in hierdie voorval geopenbaar is. Bo en behalwe die roof en die moord op ‘n onskuldige siel, het mense die vermetelheid gehad om van die vragmotor te steel al het die bestuurder daarvan roerloos in die vragmotor in ‘n plas bloed gelê. Dit lyk asof mense hul morele kompas verloor het. Hoe dit ook al sy, ons gaan diegene wat by hierdie voorval betrokke was, sonder vrees of guns jag en arresteer,” het die generaal gesê.