‘Gebruik gesonde verstand as dit by kinderentstowwe kom’ ─ WCH

Kind kry inenting

Die aantal entstowwe wat aan babas en kinders gegee word, het dramaties toegeneem sonder dat die nodige omsigtigheidsondersoek deur gesondheidsowerhede gedoen word.  Ouers word aangemoedig om hulle gesonde verstand te gebruik en ‘n dis ‘veiliger om te wag’-benadering aan te neem.  Dit is die standpunt van die Wêreldraad vir Gesondheid, beter bekend op sy Engelse naam as World Council of Health (WCH), in ‘n mediaverklaring.

“Toenemende internasionale kommer oor entstofreguleringsprosesse en entstofveiligheid het na vore gekom ná die Covid-19-entstowwe wêreldwyd nie voldoende gereguleer was nie.  Die Covid-19-krisis het duidelik gewys dat regulerende liggame, eens openbare waghonde, nou op sy beste onbevoeg is en in die ergste geval diep gekorrupteer is om die farmaseutiese industrie se belange te dien,” beweer die WCH.

In die sogenaamde Perseus Verslag  word dit duidelik uitgewys, volgens die WCH, dat daar grootskaalse onbevoegdheid en korrupsie is by liggame wat medisyne moet reguleer. In die mediaverklaring noem die WCH dan verskeie punte om hulle standpunt te staaf.  Enkele van hulle bewerings is as volg:

– Verskeie navorsingstudies dui nou aan dat ingeënte kinders baie slegter gesondheidsuitkomste het met hoër koerse van baie chroniese siektes as nie-geïntepte kinders;

– Daar is vraagtekens oor die integriteit van wetenskaplike navorsing en die reguleringsproses van kinderentstowwe;

– Farmaseutiese korporasies het ‘n lang geskiedenis van wanvoorstelling van produkte wat beserings en sterftes veroorsaak. Pfizer het byvoorbeeld die grootste kriminele skikking in die geskiedenis vir dwelmbedrog betaal. Die kinderjare-inentingskedule bied hierdie gewetenlose korporasies ongereguleerde toegang tot die liggame van ons kinders;

– Die moderne samelewing ervaar ongekende koerse van outisme, asma, allergieë, inflammatoriese dermsiekte, diabetes, vetsug, depressie en meer, waarvoor die oorsaak/e nog nie vasgestel is nie;

– Nasionale regulatoriese owerhede hou hulle ook blind vir die toenemende bewyse wat kinderjare-inenting met ander siektes, insluitend asma, allergieë en dermsiekte, verbind;

– Wat Covid-19-inenting betref, toon bewyse van onafhanklike kundiges en amptelike internasionale databasisse dat die Covid-19-entstowwe nie doeltreffend is nie en nie veilig is nie, wat ernstige vrae laat ontstaan oor die goedkeuring van die Covid-19-entstowwe vir babas en kinders;

– Daar is ernstige kommer onder kundiges dat bestaande kinderjare-entstowwe omgeskakel sal word na mRNA-tegnologie, terwyl daar nog nie bewys is dat dit vir gebruik in entstowwe vir volwassenes veilig is nie (wat nog te sê van kinders) en dat dit gedoen sal word sonder openbare bewusmaking, toestemming en behoorlike navorsings- en regulatoriese prosesse.

Volgens die WCH se mediaverklaring kan ook die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) nie vertrou word nie:  “Die WGO en sy private en staatsbelanghebbendes het finansiële en ideologiese belange in die verskaffing van entstowwe en het hulle daartoe verbind om 500 entstowwe teen 2030 te verskaf.  Die WGO en sy belanghebbendes werk vir die farmaseutiese industrie en skep wetgewing wat hulle die mag sal gee om inspuitings op jou en jou kinders af te dwing.”

Volgens die WCH wil die WGO ‘n entstof-bedryf skep wat op vrees gebou is.  “Ter wille van alle kinders en ‘n gesonde samelewing, is dit tyd dat ons ons blinde geloof in entstowwe, die korporasies wat dit vervaardig asook die regulerende liggame en supranasionale organisasies wat regstreeks of indirek deur hul magtiging dit moontlik maak en wins maak, bevraagteken.”

Die amptelike standpunt van die Suid-Afrikaanse regering en die WGO is dat die entstowwe veilig is.