
PIETERSBURG ─ Die provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Noord-Transvaal (Limpopo), luitenant-generaal Thembi Hadebe, het die skokkende voorval waarin twee dogters hul middeljarige moeder aangerand het ten sterkste veroordeel. Die dogters het na bewering haar maatskaplike-toelaag geëis. Die voorval het in Oktober verlede jaar by Mashashane-dorpie, Capricorn-distrik, plaasgevind.
Volgens beskikbare inligting, het die twee susters hul ma in die openbaar aangerand en ‘n verbyganger kon toe die voorval op video vaslê en dit is daarna op verskillende sosiale media platforms gepubliseer. Die video het eers verlede Dinsdag onder die aandag van die polisie gekom. Die 49-jarige slagoffer is genader en sy het ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen haar twee dogters geopen.
Een van die verdagtes is onmiddellik gearresteer maar die tweede verdagte is egter nog op vrye voet. Volgens die polisie sal ook sy binnekort gearresteer word.
Luit-genl. Thembi Hadebe, sê in ‘n mediaverklaring: “Ons sal nie kinders duld wat hul ouers op enige manier mishandel wanneer die gesin as instelling in duie stort en weens ‘n gebrek aan goeie sedes en respek ‘n ander persoon se regte geskend word nie. Die howe en tronke sal altyd daar wees vir korrektiewe geregtigheid.”
Die verdagte sal binnekort voor die Seshego-landdroshof verskyn op aanklag van aanranding GBH. Die polisie-ondersoek duur steeds voort.