
DURBAN – Lede van die polisie se Umbilo Trio Taakspan, het gister drie verdagtes in hegtenis geneem kort nadat hulle ‘n drankwinkel beroof het en ook probeer het om polisiebeamptes in Umbilo te vermoor.
Wakker polisiebeamptes het ‘n sedan met vyf insittendes op Stellawoodweg opgemerk opgemerk wat hulle vermoed het by misdaad betrokke kon gewees het. Die twee beamptes, wat in ‘n gemerkte polisievoertuig was vir die verdagtes in die voertuig beduie dat hulle die voertuig moet stop, maar die bestuurder het besluit om die polisie se opdrag te ignoreer en het weggejaag. ’n Hoëspoed-jaagtog het gevolg en die verdagtes het op die polisie begin skiet. Die polisie het teruggeskiet en het uiteindelik daarin geslaag om die verdagtes tot stilstand te dwing en drie van hulle is in hegtenis geneem.
“Twee verdagtes het ligte skietwonde opgedoen. Geen polisiebeampte is beseer nie en ‘n soektog is aan die gang na die ander twee verdagtes wat daarin kon slaag om te vlug. Tydens die ondersoeking van die misdaadtoneel is vasgestel dat die verdagtes ook voldoen aan die beskrywing van mans wat pas ‘n drankonderneming op Bartleweg beroof het,” sê kol. Robert Netshiunda in ‘n mediaverklaring.

’n Daaropvolgende deursoeking van die voertuig het gelei tot die terugwinning van vier ongelisensieerde vuurwapens met twaalf rondtes ammunisie. “Die verdagtes is ook in besit gevind van vermoedelik gesteelde drank, vermoedelik gesteelde sigarette en ‘n onbekende bedrag geld. Die beseerde verdagtes is onder polisiebewaking hospitaal toe geneem,” sê kol. Netshiunda.
Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord op polisiebeamptes, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, sakeroof asook die besit van vermoedelik gesteelde eiendom. Behoorlike prosesse sal gevolg word om vas te stel of die verdagtes nie met ander geweldsmisdade in en om die provinsie verbind kan word nie.