
PIETERSBURG ─ Saterdag 16 September het ‘n groep lede van die Afrikaner Nasionalistiese Beweging (ANB) en die ANB-Jeug die Witkruis Monument se kruisplanting gaan besoek net buite Pietersburg.
Die monument is opgerig in 2004 toe 1200 kruise teen die berg, langs die N1, geplant is ter nagedagtenis van elke man, vrou en kind wat wreedaardig in plaas-aanvalle vermoor is, en om ons te herinner aan die lyde van ons eie. Die afgelope naweek is 54 kruise by die monument bygevoeg, om aan te sluit by die meer as 2200 kruise wat spierwit langs die N1 uitstaan.
“Die besoek aan die lewende monument, wat elke jaar groter word met meer kruise van volksgenote, is belangrik om ons Afrikanervolk tot ‘n besef te bring dat die moordkreet van die geweldenaars nie ligtelik opgeneem moet word nie,” aldus die redaksie van die ANB Nuusbrief.

“Ten tweede moet dit ons tot die besef bring van ons volk se ongehoorsaamheid aan die Here en moet ons Sy tugtiging oor ons in die gebeure te sien. Soos in Pres Kruger se woorde: ‘Ons moet erken ons het gesondig teenoor die Here… Sondig steeds.’
“Dan vanuit ons besef van berou moet ons, ons tot Hom te wend as ons enigste Redder en ten eerste die vreemde gode (soos sport en geld wat ons lewens rigting bepaal) uit ons midde te verwyder en ons te bekeer van ons verkeerde weë soos die duld van dobbel en bandeloosheid en die minagting van die Sondag.”
Volgens die redaksie van die ANB Nuusbrief sal deur terug te keer na God drie-Enig en as ons volk hulle na Hom toe wend as ons enigste Redder en Trooster, sal ons mekaar weer op roep tot aksie uit liefde vir ons volk waarin die Here ons gestel het.
“Ons volk moet dan met mekaar in gesprek tree en saamkom buite die goddelose bestel, om weer die vlam van Christelik Afrikaner Nasionalisme in ons harte wakker te skud!
“Die Afrikaner Nasionalistiese Beweging hoop om volgende jaar weer die monument te gaan besoek, en met mede-volksgenote te vergader om die boodskap van terugkeer en herlewing van ons kultuur en geloof, en die soet stryd vir ons volk se vryheid, te bring!”
(Met dank aan die Sekretaris van die ANB, mnr. Emil de Villiers, wat hierdie nuus vir Landnuus aangestuur het – Red).