Amerikaanse weermag soek nou weer blanke mans

Blanke-soldate-in-Jump
Blanke manlike soldate sit in 'n weermaghelikopter in die Amerikaanse weermag se nuutste werwingsvideo.

PENTAGON, Verenigde State van Amerika ─ Vir baie lank het die Amerikaanse weermag met werwing spesifiek gefokus om nie-blankes, homoseksuele persone en vroue te werf, eerder as hetroseksuele blanke mans.  Daarvoor het die weermag baie kritiek ontlok, maar nou skielik met ‘n nuwe werwingsvideo, wil dit voorkom asof die Amerikaanse weermag weer spesifiek blanke mans probeer werf.

Vroue en minderhede is merkbaar in die Amerikaanse weermag se advertensie met die titel “Jump” afwesig.  Sommige Amerikaners spot op sosiale media en sê dit wys die weermag verwag hulle gaan in ‘n groot oorlog betrek word en daarom het hulle nou wit mans as soldate nodig as hulle die oorlog wil wen.

“Jump,” wat reeds op 4 November vrygestel is, is die vierde advertensie in die weermag se “First Steps”-veldtog, wat in Augustus van stapel gestuur is.  Dit is ook deel van die weermag se 2023 “Be All You Can Be”-veldtog.  Dit bevat ‘n wit rolverdeling van manlike soldate in ‘n CH-47 Chinook-helikopter wat vir ‘n valskermsprong voorberei.  Linkses het nie op hulle laat wag nie en het dadelik die video vir sy ooglopende gebrek aan diversiteit gekritiseer.

Voorheen het die Amerikaanse weermag op 4 Mei 2021 ‘n advertensie vrygestel met ‘n lesbiese egpaar, ‘n LGBT-aktivisteparade en die suggestie dat die ondersteuning van homoseksuele en lesbiese vakbonde met die verdediging van die VSA vergelykbaar is.  Konserwatiewe kritici het toe, onder andere, gesê linkse politici probeer die Amerikaanse weermag in ‘n spul “sussies” verander.

Met hulle polities korrekte werwingsveldtogte, het die Amerikaanse weermag egter nie juis daarin geslaag om die nodige hoeveelheid nuwe rekrute te lok nie.  Die Army Times berig dat in 2022 het die Amerikaanse weermag 15,000 soldate (25%) minder as die teiken gewerf.

“In die weermag se mees uitdagende werwingsjaar sedert die begin van die vrywilligersmag, sal ons net 75% van ons boekjaar 2022 werwingsdoelwit bereik,” het weermagsekretaris Christine Wormuth gesê.

Dinge het sedertdien nie veel verbeter nie. Task & Purpose het berig dat die weermag verwag om die boekjaar 2024 af te sluit met 55,000 nuwe rekrute, wat 10,000 minder as sy oorspronklike doelwit is.

In 2010 het die Amerikaanse weermag uit ongeveer 62,2% blanke soldate bestaan.  Volgens die Pentagon het wit soldate vanaf Junie 2022 slegs 53,9% van die weermag se aktiewe komponent uitgemaak.  Daarvan was 69% van alle offisiere blankes, 62% van adjudant-offisiere was blankes en 63% van USMA-kadette was ook wit. Mans het 84,4% van die totaal uitgemaak.


* Help om u volk se nuusblad te laat groei deur ‘n donasie of om te adverteer in LANDNUUS.  U kan ook ons nuus help versprei deur dit op u sosiale media blaaie te deel.